Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 10 JUNIE 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

In die nuus vandag:

IS JY VOORBEREID VIR JEUGDAG 2007?

OPROEP VIR BEURS AANSOEKE

LASTE KANS VIR DIE 2007 KONSTRUKSIEKOMPETISIE

SARL FAKSNOMMER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

IS JY VOORBEREID VIR JEUGDAG 2007?

Is jou klub, en is jy gereed vir Jeugdag 2007? Die doelwit van vanjaar se aktiwiteit op 16 Junie is om so veel as moontlik jongmense te kry om die bedryf van ‘n mateurradiostasie te laat ondervind deur hulle dit onder jou toesig te laat doen en met ander jongmense oor die lug te laat praat.

Die klem moet gelê word op die bedryf van ‘n amateurstasie, nie net die oorhandiging van ‘n mikrofoon aan jou jonng gas om ‘n paar woorde te sê nie.

Spandeer ‘n bietjie tyd deur te wys hoe om ‘n send/ontvanger te gebruik en hoe om CQ’ of ‘n ander stasie, te roep.

Om dit alles wettig te mag doen, voltooi eenvoudig die registrasievorm vir ‘n opvoedkundige stasie. Dit is beskikbaar op die web by www.sarl.org.za, klik op SARL-vorms, laai die registrasievorm af, voltooi dit en faks dit aan die nommer daarop aangetoon. Stuur ook ‘n e-pos aan youth@sarl.org.za waarin besonderhede verskaf word van die jeugdagaktiwiteite wat deur jou of jou klub aangebied gaan word.

Die SARL beplan ‘n spesiale geleentheid waartydens die jeug met ‘n interessante persoon kan praat. Dit was beplan dat dit Mark Shuttleworth sou wees, maar, weens laat veranderings aan Mark se reisskedule, moes hy onttrek. Die SARL is in gesprek met ander persoonlikhede, en sodra dit gefinaliseer is, sal dit op die web aangekondig word. Die spesiale geleentheid sal tussen 10:00 en 11:00 beskikbaar wees en om te verseker dat aan jou groep ‘n tydgleuf aangebied kan word, word dit aanbeveel dat jy registreer deur ‘n e-pos te stuur aan youth@sarl.org.za. Alhoewel daar oop tyd sal wees, is dit beter as aan jou ‘n bespreekte tydgleuf toegeken kan word, sodat jy nie met ander stasies hoef te kompeteer nie.

Riglyne oor hoe om Jeugdag 2007 ‘n groot sukses te maak, sal vanaf vanaand op die web www.sarl.org.za beskikbaar wees, klik op “youth activity” onderaan die linkerhandse kolom op die webblad. Kyk ook gereeld vir enige opdaterings.

OPROEP VIR BEURSAANSOEKE

Die Itchen Valley Radio Club het drie beurse beskikbaar gestel vir studente onder die ouderdom van 25 om radioamateurs te word. Die beurse is elk R650 werd en sal studente help om vir die Oktober 2007 Klas A Radioeksamen in te skryf. Die beurse staan bekend as die Itchen Valley Radio Club YARP 2007 Beurse en dek die kostes van die RAE-inskrywing en een jaar se junior lidmaatskap van die SARL na suksesvolle voltooiing van die eksamen asook R150 vir die klasgelde wat plaaslike klubs hef vir RAE-opleiding. Die opleidingsmateriaal is gratis beskikbaar op die SARL-webwerf by www.sarl.org.za.

Quentin Gee, die sekretaris van die Itchen Valley Radio Club het aan SARLNuus gesê dat as deel van hulle uitreiking het hulle besluit om ‘n bydrae te maak aan die ontwikkeling van amateurradio in Suid-Afrika, veral onder die jonger geslag.

Die SA Amateurradio-eontwikkelingstrust bestuur die beurse. Die sluitingsdatum vir aansoek is uitgestel tot 30 Junie 2007. Ansoekvorms is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

VOLGENDE PRESIDENTSNET EN INTEGNET OP 1 JULIE

Die volgende Presidentsnet en Integnet sal op |Sondag 1 Julie gehou word met die Presidentsnet wat om 19:00 begin gevolg deur die Integnet om 20:00. Die onderwerp vir bespreking is tuiskonstruksie. Bly ingeskakel vir meer inligting.

SARL-FAKSNOMMER – VERANDER JOU TELEFOONLYS

’n Tyd gelede is die SARL-faksnommer omskep na ‘n faksposstelsel wat toelaat dat fakse op die kantoorrekenaar ontvang word en met die vermoë om die faks aan raadslede te stuur soos dit hulle aandag verg.

Die nuwe nommer is die ou nommer met ‘n 088 voorvoegsel. Die volledige faksnommer is dus 088 011 675 2793.

Gebruik asseblief die volle 13 syfernommer, as jy dit nie doen nie, gaan jou faks nie by die NARS uitkom nie.

LAASTE KANS OM IN TE SKRYF VIR DIE 2007 KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 11 Junie. Die kompetisie is oop, dus kan die deelnemer self besluit wat hy of sy wil inskryf. Sodra al die papierinskrywings ontvang is, sal die beoordeelaarskomitee vergader om al die inskrywings te evalueer en die 5 finaliste te kies.

Elke finalis sal tot R1 000 hê om sy/haar projek te bou. Die sluitingsdatum vir die voltooide projek is 31 Julie 2007 en die pryse sal tydens die RTA in Johannesburg op 18 Augustus oorhandig word. Verstay, die Yaesuverspreiders in Suid-Afrika, sal aan die twee algehele wenners elk ‘n tweemeter mobiele radio gee. Volledige besonderhede is beskikbaar op www.amateurradio.org.za.

JEUGDAGAKTIWITEITE

Die Magalies Radioamateurklub nooi almal uit na die amptelike opening van die nuwe radiosentrum by die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster in Rietfontein langs Waverley in Pretoria. Die verrigtinge begin om 08:30 met die amptelike opening van die sentrum deur Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, waarna die jong ZU-amateurs met trots hulle eie radiostasie onder die roepsein ZS6JVT gaan bedryf. Ons nooi almal uit om met die nuwe amateurs kontak te maak op 40 en 80 meter asook op BHF.

Inroepe vir aanwysings na die skool sal vanaf 08:00 op 145,750 geneem word, Kom besoek die nuwe radiosentrum en kom ervaar die entoesiasme van die jong mense, dit is aansteeklik.

Die Alberton Amateurradioklub (AARK) gaan 'n spesiale geleentheid veldstasie by Laerskool Dalview te Brakpan as deel van Jeugdagfeesvieringe oprig. 'n HF-, BHF- en UHF-stasie sal aktief wees vanaf Vrydag 15 Junie asook van 08:00 tot 12:00 op 16 Junie. 'n APRS-stasie sal ten toon gestel word en 'n vosjag sal deel van die aktiwiteite vorm.

KLUBNUUS

ZS6PTA Megavlooimark. Die Pretoria Amateurradioklub hou op 30 Junie hul wintervlooimark by die Suidkampus van die Universiteit van Pretoria, op die hoek van Lynwood- en Universiteitsweg. Die aanvangstyd is 09:00 en almal is baie welkom. Daar sal die gebruiklike eet- en drinkgoed beskikbaar wees. Vir meer inligting, of om 'n tafel te bespreek, kontak Almero by 012 567 3722 of op 082 908 3359.

Webwerf van ZS6POT. Dit is met genoeë dat daar aangekondig kan word dat die Potchefstroom Amateurradioklub ook nou tot die Internet toegetree het met ons hul webwerf www.zs6pot.za.org. Die webmeester is Mike Brink, ZR6BRI, en die bestuur en alle lede van die klub bedank Mike vir sy uitstaande poging. Besoek gerus hierdie interessante webwerf en lewer u kommentaar!

KOMPETISIENUUS

Die SARL Digitale Kompetisie sal op Sondag 24 Junie 2007 vanaf 15:00 tot 18:00 SAT gehou word. Na ‘n voorstel deur die SARL se BHF-bestuurder, is die kompetisie verander om 6 en 2 meter ook in te sluit. Die reels is beskikbaar in die 2007 Kompetisieboek.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak sal wissel tussen laag en gematig met 'n skraal kans vir aktiewe vlakke. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 15 wees. Die hoër sonaktiweit, in samewerking met die stil magnetiese veld, kan aanleiding tot 'n bietjie opwinding gee.

20 en 40 meter is die beste keuse vir DX met moontlike 20 meter openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Na Australië toe kan 20 meter om 07:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 meter openinge na Europa. Om 16:00 is daar moontlike kort 20 meter openinge na die Weskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie - SARL-Jeugdag;
24 Junie – SARL Digitale Kompetisie;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname, ZS6PTA Mega Vlooimark;
1 Julie – Presidentsnet en Integnet;
2 Augustus - Klas B RAE;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003